Ooooo aaaah

Vir Sticks is sy die mooiste ding op twee ses bene, haar lyfie so skraal, haar oë groot en haar voelers.  Ooo daai voelers voel so saggies oor sy kop, so asof sy hom nader wil trek.  Die kyk in haar oë vertel aan hom dat hy haar net moet leer ken.  Die afwagting maak hom mal.

Hulle het mekaar die eerste keer raakgesien nadat hulle albei op die hoekie vir eensames was vir ‘n rukkie.  Hy was skaam en wou haar nie sommer net uitvra nie, hy moes eers uitvind of sy regtig so mooi is soos haar vuisboek foto’s, so toe stuur hy sy vriendin om te gaan kyk en uit te vind.  Na haar positiewe terugvoer, besluit hy daar en dan om ‘n boodskappie te stuur: “Lady, jy is so hot dat ek nie my eie nasm kan onthou nie, jou hitte straal uit jou ogies.  Jy maak my mal, ek kan nie ophou om aan jou te dink nie.  Kan ons ontmoet?”  Sy dink by haarself dat hierdie nie die lelikste bidsprinkaan is wat sy al gesien het nie, maar sy moet darem so bietjie moeilikerig wees, haar boodskap terug: “Ek is scary jy weet, is jy seker jy kan my hanteer?”  Eers skrik hy so bietjie, maar na hy weer na die foto gestaar het, besluit hy om dit tog te doen.

Na ‘n paar dae en ‘n paar honderd boodskappe, breek die dag van die ontmoeting eindelik aan.  Sticks kan nie wag om sy Hot Lady te ontmoet nie.  Eers is hulle altwee maar skaam en praat net oor gewone dinge, maar die besluit is gemaak, hierdie is ‘n verhouding wat gaan hou!!  (Al is dit net vir 1 aand)

Die klere word so stuk-stuk op pad na die naaste hotel uitgetrek.  Daar aangekom word nog klere van hulle poging om die sedigheid te bewaar, onthef.

Sticks kan sy lus nie langer beteul nie.  Hy trek hot lady se laaste klere uit en hy trek haar in sy arms in, sy hande beweeg eers stadig, maar toe al vinniger oor haar gesig, haar keel, haar bors.  “Oooo Sticks jy is definitief die man vir my.  Jou lenige lyf so koud hier teen myne.  Jou soene soos vuur, jou hande op my lyf.  Kom nog nader, ek wil jou voel teenaan my….binne my….”  Gnaarts, daar gaan Sticks se kop binne-in…….haar mond.

Aaaaah……” sug sy terwyl sy haar lippe aflek

 

Om die inskrywings van verskillende bloggers in Lê-Jou-Eier te geniet of om self ‘n eier te kom lê wat ons kan uitbroei en grootmaak, klik op die volgende InLinkz skakel:

Vir die reëls van hierdie eier-boerdery, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposte Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).

Speelgoed

Eendag lank lank gelede, nee eendag nie so lank gelede, toe ek vir E ontmoet het, het ek vir hom gesê dat ek niemand se speelgoed is nie.  En toe kom X weer in my lewe en ek smyt E weg soos ou speelgoed wat nie meer interessant is nie.  Snaaks hoe die lewe draaie loop.  Vir lank was ek X se speelgoed (of so het dit gevoel), voor dit was XX my speelgoed en dit het ook nie reg gevoel nie.

Toe ontmoet ek vir M so 2 maande gelede en van die begin af was dit duidelik dat die lewe / iemand hom gebreek het.  Tog het ons ‘n verhouding begin.  Na omtrent ‘n week het ek al geweet dat hy te sag is vir my, te goed vir my, dat ek nie reg is nie (al het ek so gedink).  Hy het my oorreed om nog te probeer.  En ek het regtig probeer.

Dalk het ek gedink met tyd sou ek hom kon oortuig dat hy wel genoeg is.  Sy selfvertroue weer kon herbou, hom kon wys dat hy wel iets is, iets het om te bied.  Maar helaas, ek is te gebreek om iemand anders te prober heelmaak.  In die proses het ek al meer begin voel ek gebruik hom, het sy “jammer ek leef” houding my meer en meer begin irriteer.  Dis nie reg dat ons in ‘n verhouding bly waar dit vir seker in disaster gaan opeindig nie.  Gister vir hom gesê dis verby.  Eerder nou as oor nog 6 maande, of 6 jare.

Hy pyn en so graag soos wat ek dit wil beter maak kan ek nie.  Ek kan nie eers myself beter maaak nie.

Kan iemand hom sê, want hy wil dit nie van my af hoor nie.  Dis beter as speelgoed weggegooi word, terwyl dit nog bruikbaar is vir iemand anders.  Anders word jy die ashoop koningin (soos ek)

Die Lappop

Iemand het ‘n lappop op ‘n ashoop weggegooi,
sy was gedaan en stukkend,
verbleik en nie meer mooi nie.
Op die ashoop hoor sy stemme praat
en die verwelkom haar.
Maar o, ellende, toe sy kyk,
wat sien die lappop daar.

KOOR:
net ‘n vrot pampoen en ‘n stukkend skoen,
‘n grammefoonplaat en ‘n kous sonder maat,
net ‘n leë bottel bier en verlepte angelier,
‘n gelapte binneband en ‘n ou koerant.

Ag hoe droewig voel die lappop,
toe sy alleen daar le,
want sy weet dat niemand ooit vir haar
vir lappop weer wil he nie.
‘n Traan loop oor haar lappop wang
want dit begin te reen
en daar lê sy, sy ou lappoppie
op die ashoop so alleen.

(KOOR)

Ag nee wat sê die lappop,
ek soek ‘n ander oord.
Wat sal die wêreld van my dink,
want soort jy weet, soek soort.
Ag almal wil vir lappop troos
en soebat sy moet bly,
hulle sê dis die mooiste ashoop die
wat ‘n mens nog ooit kan kry.

(KOOR)

Al die goeters op die ashoop hou gou vergadering
en besluit om lappop te bekroon,
as die ashoop koningin.
Van toe af bly die lappoppie so trots tevrede daar
en al haar onderdane bedien getrou vir haar.

ja …….

Netso

SKAAKMAT

Jare gelede, in die beroemde Louvre Museum in Parys was daar ‘n skildery met die titel “skaakmat”. Dit het die satan uitgebeeld wat smalend oor sy skaak -opponent uittroon, omdat hy sy opponent se siel gewen het. Die opponent word uitgebeeld as ‘n jong man, sy kop gebuig in vernedering – hy’s verslaan en verslae. Sy gesig is vertrek van pyn – en die satan lag oorwinnend. Daar’s ‘n paar stukkies oor op die skaakbord en die woord “Skaakmat” staan oor die skildery geskryf.

‘n Ouerige man stap eendag deur die Louvre en stop by die sataniese skaakspel. Doodstil staan hy vir lank en bekyk die prent. Toe hy skielik lewe kry en begin uitroep: “Dit is ‘n leuen, dit is ‘n leuen!” Ander mense in die gallery het kom kyk wat aangaan. “Wat is die leuen?” vra hulle terwyl hy aangaan om dit uit te roep.

Die Kurator van die museum daag op. “Meneer, is hier ‘n probleem, kan ek help?”

Die man kyk die kurator in die oë en sê: “Ek is die Franse skaakkampioen, ek sê vir jou dit is ‘n leuen!” Die kurator was nog steeds verward – wat is ‘n leuen? Die man wys na die skaakbord en sê: “Die skilder sal die skildery moet verander, of hy sal die titel moet verander. Kyk, die spel is nie oor nie. Dit is ‘n leuen, dit is nie skaakmat nie, die koning het nog ‘n skuif!”

– ‘n Klein seuntjie met 2 vissies en 5 brode en duisende mense. Dit lyk soos skaakmat, maar dit is ‘n leuen, want die Koning het nog ‘n skuif, en hulle tel 12 mandjies kos na die tyd op.

– ‘n Man met die naam Daniël word gegooi in ‘n kuil vol honger leeus. Dit lyk soos skaakmat, maar dit is ‘n leuen, want die Koning het nog ‘n skuif oor!

– Jesus kom by die graf van Lasarus. Hy’s al vier dae dood. Die graf ruik al. Dit lyk soos skaakmat, maar dit is ‘n leuen want die Koning het nog ‘n skuif oor!

– Die vrou by die put, moet deur mans met klippe dood gegooi word. Dit lyk soos skaakmat, maar dit is ‘n leuen want die Koning het nog ‘n skuif oor. “Gaan en moenie langer sondig nie!”

– Die moordenaars saam met Jesus aan die kruis. Dit lyk soos skaakmat, maar dit is ‘n leuen, want die Koning het nog ‘n skuif oor. “Vandag sal jy saam met my in die paradys wees”.

– Op die Paasfees word die Lam geslag. Die mense skreeu veroordelend – “Kruisig Hom, kruisig Hom”. Hulle spot Hom en slaan Hom. Hulle spoeg hom en kap Hom met spykers vas aan ‘n kruis. Jesus skreeu met ‘n hortende asemteug en gebarste lippe dit uit: “Eloi, Eloi lama sabagtani – my God, my God waarom het U my verlaat”. Eenkant staan mense en sê: “Ja, ander kon Hy red, maar Homself kan Hy nie red nie”. Dit is verby, skaakmat, gaan maar huis toe – satan leun smalend oor die skouer van die mens, alles is verby, maar dan kom Opstanding Sondag en ek en jy weet. Dit lyk soos skaakmat, maar dit is ‘n leuen, want die Koning het nog ‘n skuif oor!

– Ons land is in ‘n gemors. Moorde vind oral plaas. Vroue en kinders word wreed vermoor en verkrag. Mense verloor hul werke, huise, huwelike, lewens, selfrespek, morele waardes, harte en verstand… Jou lewe is ‘n gemors. Jy soek, jy klop, jy roep… Jy huil, jy lag, jy raak kwaad… Jy voel leeg. Jy voel verlore. Jy soek jou voetspore, maar vind verdwaalde paaie. satan staan en lag. Dis verby. Sluk daai pil, trek die sneller, gee daai tree oor die rand… Vrees is aan die orde van die dag. Vrees bepaal jou kom en jou gaan. Vrees vir jou lewe, vrees vir jou medemens, vrees vir jouself, vrees vir jou gedagtes, vrees vir jou omstandighede, vrees vir môre, vrees vir die herinnering van gister, vrees vir die omstandighede van vandag. VREES… Maar vandag wil ek vir jou sê, die spel is nie oor nie!! Die Koning het nog ‘n skuif oor!!!!!!! Mag hierdie boodskap julle net so

bemoedig soos vir my.

Die KONING het die laaste skuif.

Hierdie is die boodskap wat Suid Afrika in gestuur moet word!!!

Mag ik een poepje laten?

Ek het gister my pa gesien, eerste keer in lank.  En eerste keer in lank wat ons actually kuier.  Met die jare saam het hy definitief versag, hy is nie meer so erg “my way or the highway” nie.  Ek hoop ek raak ook sagter met ouderdom saam.

In elk geval, my pa is in Nederland gebore en ek het nog steeds familie daar.  Die familie het kom kuier hier in Suid-Afrika baie baie lank gelede.  So staan ons in die kombuis en my niggie (seker toe so 10 jaar oud), vra “Mag ik een poepje laten?”  En al drie ons kinders kyk haar geskok aan en sê uit een mond “NEE”.  Ek is nie seker of sy het of nie, maar omdat ek van Suid-Afrika af kom, vra ek nie, ek doen net.

Hierdie hele dra swart dag het nou regtig in ‘n media-sirkus ontaard.  Vanoggend 1ste ding sien ek die herrie oor Heinz Winckler se video van Donderdag, en kort terug ook die ongeluk waar die vragmotor in betogers vasgery het.  En alles moet alewig gaan oor wit en swart.  Die fok alleen weet, ek is oor dit.  Ons praat Vrydag oor presies hierdie, daar is sleg witmense, bruinmense, swartmene.  Daar is sleg mense. punt. Stop.  En die vet weet as jy moor en steel is jy nie noodwendig swart nie.  Nou kom Sunette Bridges en moet natuurlik comment en ietsie sê oor die swartmense wat so moor en steel.  Fok fok fok.

Ek is wit, ek is Afrikaans.  Aan nie 1 van daai twee goed kan ek iets doen nie.  Aan my mentaliteit in die algemeen kan ek wel iets doen.  Aan my invloed op my medemens kan ek wel iets doen.  So ek dra swart vandag want ek is saam met baie ander mense van baie ander rasse gatvol vir die misdaad in hierdie land.  Meer nog is ek gatvol dat misdaad nie gestraf word nie.  Alle misdaad.  So of jy nou die pirate DVD op die hoek koop, geld verduister of iemand vermoor.  Dis tyd dat straf terugkom.  Dis tyd dat ek (want dis die enigste persoon aan wie ek kan verander) iets doen om my mentaliteit en my toe oë te verander.

Daar’s my poepie vir die dag.  Hy stink so bietjie, maar nou ja

 

Die pad

Selfverkenningstogte is nie lekker nie.  Uit my vorige blogs weet ek dat ek op ‘n pad is en nie weet wat my bestemming is nie.  Maar…….ek leer myself ken, miskien vir die eerste keer in my lewe.  Die een ding wat ek wel kan agterkom is dat ek al hoe meer besef dat ek dit nie alleen kan doen nie.

Vir ander mense (wel so lyk dit vir my) is dit maklik om te besluit, ek glo of ek glo nie.  En dan leef hulle dit so uit.  Vir my was kerk toe gaan nog altyd meer plig as plesier.  Dit het ook nie regtig gehelp dat XX (1ste man), nou vreeslik vroom met die Bybel onder die arm loop, maar nog nooit erken het dat hy regtig nie so ‘n goeie mens was nie.  Ek het ‘n kleintjie dood aan pretend, wees eerder die boelie wat jy is, of vra om verskoning (ten minste aan jou kinders) en wees dan vroom.  So ek kon nog nooit lekker vat kry aan kerk nie.  Die hedendaagse tendens waar daar meer oor geld as oor God gepraat word, het ook nie veel gedoen om my te oortuig nie.  So ek gaan nie kerk toe nie.  Maar ek glo in God, ek glo dat Sy Seun vir my gesterf het.  Ek het die laaste jare in my 2de huwelik nie genoeg Bybel gelees en gebid nie, maar deesdae vind ek al hoe meer dat in my soeke na myself, ek vir God raakloop.

Snaakse goed, klein toevallighede.  Soos liedjies wat speel.  Ek sit eergister die radio aan in die kar vir die eerste keer in weke.  Op Jakaranda (ek het net nie krag om na ‘n beter kanaal te soek nie, so ek luister steeds) speel Touch of Class se laaste paar note van hulle weergawe van Sounds of Silence, ek hou van die liedjie, sit harder.  Direk daarna speel hulle nuwe liedjie, Val op jou knieë.  Regtig?  ‘n Christelike liedjie op Jakaranda?

Zeesbees like my blog Bang, ek gaan kyk weer na die comments en sien vir die 1ste keer Abrie het ‘n link gepos na een van sy blogs oor ‘n spesifieke Laurika Rauch song https://abriejoubert.wordpress.com/2016/04/28/thermopylae-hot-gates/ en ek gaan lees dit, vreeslik interresant, maar meer nog as dit.  Abrie praat van sy persoonlike ervaring “In Christus is my lewe nie probleemloos of sondeloos nie, maar ek weet ek kan dit na Hom toe vat.”  Abrie lyk vir my na ‘n slim man, wel slimmer as ek in elk geval, so as hy so opelik kan skryf oor Christus, wat is verkeerd met my?  En nou net gaan lees ek nog ‘n link in sy blog al geskryf in 2013: https://abriejoubert.wordpress.com/2013/02/15/ewigheidsperspektief/  Ek is so 4 jaar agter jou Abrie, maar agteros kom ook in die kraal.

En dan aan die ander kant, is hier ander mense wat my inspireer om beter te leef, inderdaad dat daar ‘n regte lewe is selfs al is jy ‘n Christen.  Una wat my nog nooit geoordeel het nie, wat my inspireer.  Danie wat Christendinge vir my verstaanbaar maak.  Elane, Lekkervurigeaffere en nog soveel meer.  Dankie julle, elke dag kan ek iets raaklees wat vir my ‘n klein bietjie meer lig op die paadjie skyn.

Die pad is vol kronkels, vol draaie, sonder bestemming, met baie valle, maar ook baie opstaan.  Dankie dat ek die pad kan loop, dankie dat daar mense in my lewe is wat saam met my stap.  Partkeer net ‘n paar tree, ander kere kilometers.  Dankie dat my Here altyd saamstap, selfs wanneer ek Hom nie sien nie (of nie wil raaksien nie), help Hy my elke keer terug en op wanneer ek val.

 

 

 

 

Onthou jy toe….

Die vraag spook nou al ‘n paar dae by my:  Hoe gaan ek onthou?  Een van die goed wat die kopdokter wou gehad het ek moes doen en wat ek nooit kon regkry nie was om myself te onthou as kind.  Hoe was ek gewees, waaroor het ek gedroom, wie was ek voor my lewe begin het.  Ek is soos ek vandag is, blykbaar omdat ek ‘n masker vroeg al moes opsit om myself te beskerm.  Ek het geleer dat dit makliker is om braaf voor te kom, as om weerbaar te wees.  Toe ek klein was, was fotos nie ‘n ding wat elke dag gedoen is nie.  Verjaardae en spesiale geleenthede is afgeneem, maar nie soos vandag wat elke oomblik van elke dag op vuisboek gepost word nie, so daar is min fotos om my geheue te verfris.

Ek onthou wel een foto baie goed, ek staan met so gebreide hasie/hond in my hand, vir jare het ek oor hasie/hond gedroom want hy is vergeet toe ons getrek het, ek was seker vier jaar oud.  Iets anders wat ek onthou is dat my pa ‘n 7single plaat gekoop het en vir my gesê het, dis my liedjie.  Dit was nogal Afrikaans gewees, Sias Reyneke se Sproetjies, ek het nogal sproete oor my neus gehad.  Ek het ook gereeld in die lukwartboom agter ons huis ingeklim en daar gesit en dagdroom, waaroor presies weet ek nie.  En dis omtrent al wat ek kan onthou van die tyd voor my ma en pa geskei is.

Van my kinders is daar meer fotos, so al was ek baie kere ‘n afwesige ma, kan ek meer onthou van hulle.  Soos dat D ‘n vreeslike mooi bos hare gehad het en dat sy nie aartappel kon sê nie, dit het as appatappel uitgekom vir baie lank.  Z is gebore met ‘n willetjie van haar eie, soos ek, het sy sommer van kleintyd af al alles gesê wat by haar verstand ingegaan het.  Nog baie baie ander klein dingetjies van toe hulle klein was.

Ek was nog nooit iemand wat ‘n dagboek gehad het waarin ek goed neergeskryf het nie en dit lyk my al hoe meer dat my brein te vol ander goed is, so ek onthou nie goed nie.  Nou die een ding wat niemand vir jou sê wanneer jy skei nie, is dat jy die “Onthou jy toe….” van ‘n maat verloor.  Jy kan nie op jou oudag sit en mekaar herinner aan die goed wat met julle saam gebeur het nie, jy moet nou self.  Soos so baie ander dinge wat jy nou moet self.

Die eerste keer na my tweede egskeiding, wat ek regtig gehuil het, was op ‘n strand op Scottburgh, toe ek twee ou mense op ‘n bankie sien sit.  Hulle het hande vasgehou.  Ek was te ver om te hoor waaroor hulle praat, maar ek kon my goed verbeel dit was oor “Onthou jy toe’s”.  En daar het ek besef: daar mag dalk weer iemand anders wees, maar voor sy tyd se “Onthou jy toe’s”, is nou net myne.  Maak nie saak hoeveel julle praat oor jou herinneringe nie, dit sal nooit gedeelde “Onthou jy toe’s” wees nie.

Dalk is dit soos ‘n boom in ‘n woud wat val sonder iemand daar, dalk het dit nie regtig gebeur as dit nie gedeelde “Onthou jy toe’s” is nie.  Wie weet

My Afrikaans

Dis my taal, die een waarin ek praat, droom, vry, sing en skryf.  Ek doen al hierdie goeters weliswaar nie ewe goed nie, maar ek probeer.  Wat sal ek mis?  My hele lewe sal ek mis.  Daar is niks lekkerder as om Afrikaans te praat in ‘n land waar niemand jou taal verstaan nie, met die persoon wat saam met jou is.  Jy kan dan alte lekker skinder sonder dat die res van die mense weet wat jy sê.  Probleem is daar is deesdae so baie van ons nasie wat oorsee woon, dat die kanse nogal goed is dat iemand jou gaan verstaan.  Ek dink dit was ‘n MasterCard advertensie waar die man en sy vrou Afrikaans praat met mekaar en dan verstaan die kunstenaar? hulle.

Ek onthou ek was in 2008 in Frankryk, net so Suid van Parys vir ‘n twee weke kursus en hulle het nogals met ons koppe gesmokkel (blykbaar moet mens eers afgebreek word, voor jy behoorlik kan funksioneer).  Die Sondag kon ons doen wat ons wil, so ek het op die trein geklim om in Parys te gaan rondloop.  Ek het regtig terugverlang huis toe, soveel so dat ek die enigste musiek op my foon deur die oorfone geluister het en kliphard saamgesing het.  Ek het ‘n paar vreemde kyke gekry, maar dit het my min geskeel, ek moes Afrikaans hoor en praat(sing), al was daar niemand wat kon terugpraat nie.  Wonder wat het die mense gedink van die mal vrou wat kliphard Lianie May se “Jy soen my nie meer nie” tussen die Sondag-stalletjies sing?

En behoede die een wat my musieksmaak oordeel.

Om die inskrywings van verskillende bloggers in Lê-Jou-Eier te geniet of om self ‘n eier te kom lê wat ons kan uitbroei en grootmaak, klik op die volgende InLinkz skakel:

Vir die reëls van hierdie eier-boerdery, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposte Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22). 

Onthoue

Ek het myself mos vroeg diè maand belowe: “Gaan 1 naweek weg, ry die bike tot waar-ookal, onthou vir kamera.  Gaan neem fotos in die natuur.  Oefen ten minste 1 keer per week (dans is oefen LOL).  Raak elke dag stil vir ten minste 15 minute en dink oor hoe my lewe lyk oor 10 jaar (en wat vandag gedoen moet word on hulle te verwesenlik), dink ook oor die paaie wat my gebring het waar ek vandag is, wat was verkeerd en wat het ek daaruit geleer en wat was reg.”

En afgelope naweek was dit so, ek het nou weliswaar nie met die motorfiets gery nie, maar so heel per ongeluk het ek uitgekom by ‘n plek waar ek paaie van onthou moes stap.  Dit het so gebeur:

Woensdag-oggend raak ek so skuins bedonnerd wakker, jak die boyfriend af, skryf ‘n blog en koop ‘n Daddysdeal (die girl hou van ‘n bargain).  Eers is ek nie seker of ek vir boyfriend wil saamhê vir ‘n hele naweek in Swaziland nie, maar op die ou einde vra ek hom saam.  Vroeg Vrydag spring ons in die pad.  Ook nie te lank nie of die kamera word uitgehaal om fotos te neem van windpompe.  Ek het geen idee wat my fasinasie is met windpompe nie, dit is net so.  Ek neem nog fotos van so geroeste een net so buite Carolina en daar kom toe ‘n boer na my toe aangestap.  Dit was yskoud en eers dog ek hy gaan my uittrap omdat ek so ongenooid sy windpomp afneem, maar nee, hy vra of ek my baadjie vergeet het en stel voor ek moet die ander een op sy plaas ook gaan afneem (meer natuur in die agtergrond)  Mense op die platteland is anders as in die stad.

In elk geval, ons kom so net na twee by die lodge aan (nadat ons bietjie geld by Piggs peak gaan uitdobbel het) en wragtig, dis dieselfde plek waar ek en X 4 dae op ‘n houseboat spandeer het 2 jaar terug, voordat alles uitmekaar gedonner het.  Van die beste vakansies van my lewe, geen elektrisiteit, geen selfone, net ons op die grote dam.  Wyn drink, piekniek hou en gesels onder die sterre op die boot se dak in die aand.  Topless tan, boek lees en bordspeletjies speel in die dag.  Nou is ek weer hier, die keer in die lodge saam boyfriend.

Saterdag-oggend vroeg wakker geword, stapskoene aangetrek en gaan rotse uitklim.  Nou op my beste dag hou ek nie van stap nie, maar die bordjie het gesê Rock Art, so ons klim.  Die paadjie loop dood by ‘n hoop groot klippe, so opgestapel, een van hulle seker 5m hoog.  Deur takke geklim, maar van rock art is daar geen spoor nie.  Miskien het hulle bedoel die artistiese plasing van die rotse is die kuns.  Nou het ek myself mos belowe om nader aan die natuur te kom.  Net daar besluit ek dat artistic kaalgat fotos by die rotse so naby is as wat ek sal kom.  Ek het hoeka mos fotos nodig om bokant my bed te hang, om die troufots wat daar was te vervang.  Nou ja, daar is niks so ongemaklik soos ‘n rots onder kaal boude nie en niks so kielierig soos gras oor ‘n kaal lyf nie.  Ek weet ook nie hoeveel photoshop sal kan doen vir ‘n middeljarige minder-maer lyf nie, ons sal maar moet sien.  Maar nader aan die natuur kan mens seker nie wees nie.

Ons het baie nuwe paaie gestap en nuwe onthoue gemaak die naweek.

 

Gewoon is…..

  •       Afgesaag
  •       Verkeerd
  •       Te Min

So luister ek eergister weer na Brene Brown (sy begin al hoe meer my gunsteling spreker raak), die keer or die prys van onkwesbaarheid (invulnerability) en een sinnetjie tref my.  Sy begin om die redes / dryfvere vir die onverdraagsaamheid vir kwesbaarheid te beskryf en sê dis as gevolg van Skaarsheid.

Nooit ______________________ genoeg

                       Goed

                       Veilig

                       Seker

                       Perfek

                       Buitengewoon

Wanneer het hierdie strewe na buitengewoon begin?  Is dit as gevolg van sosiale media en die kultuur waarin ons vandag leef?  Net die wonderlike en goeie word na Vuisboek gepos en wanneer iemand iets negatiefs sê, word dit afgemaak as aandag soek.  Niemand van ons is sò perfek nie.  En skielik dink ons almal ons moet maerder, mooier, jonger, slimmer, ryker en en en wees, om genoeg te wees.  Ons moet buitengewone dinge doen en buitengewoon wees.  Hierdie versinsel dryf ons daarnatoe om op kits dieëte te gaan, fake tans te kry, skuld aan te gaan.  Want ooo behoede ons, as ons maatjies meer as ons het, beter as ons doen of lyk.  Hierdie strewe na buitengewoon wees oorheers ons lewe, ons plaas onnodige stres op onsself en almal om ons (ingesluit ons kinders) om tog net nie gewoon te wees nie.

In die proses raak ons al hoe verder afgestomp, al hoe verder verwyder van ons medemens, al hoe harder op onsself.  En wanneer ons uiteindelik buitengewoon geword het?  Dan word buitengewoon gewoon en strewe ons na nog meer, nog beter.

Hiermee sê ek geensins dat ons nie elkeen ons unieke talente so ver as moontlik moet ontgin en verbeter nie, ook nie dat ons nie moet probeer om die beste te wees wat ons kan wees nie.  Dit is ‘n opdrag reguit uit die Bybel, moenie jou talente wegsteek nie.  Maar nêrens word daar gesê dat ons perfek moet wees nie, êrens het ons dit vandaan gekry dat ‘n gewone mens, met al sy foute asook al sy gawes, net nie meer genoeg is nie.

Vandag besluit ek:

        Ek is gewoon

        Ek is genoeg

        Dit is ok

 

Mag ek?

Vandag is een van daai dae, nie ‘n goeie dag nie.  My kopdokter het gesê daar gaan van hulle wees, maar dat dit sal verbygaan.  Vanoggend vroeg wakker geword en my koppie kan mos nie stilstaan nie, die rook warrel letterlik en figuurlik om my kop wanneer ek vroeg wakker word.  Dink dan aan al die goeters wat verkeerd is in my lewe.  Hierdie is dan ook die dae wat ek (probeer) om op te tree.  Op sulke dae is dit beter om my net uit te los, sodat ek deur die shit in my kop kan werk, iets aan party goed doen en die res kan sien vir wat dit is – nie so belangrik.  Dit is soos dit is, more voel dit weer beter.

Maar nuwe boyfriend weet die nog nie van my af nie, so vroeg al word gevra “Wat is verkeerd?’ en die “Niks” wat as antwoord gegee word, is nie goed genoeg nie, daar moet nou lank gepraat word oor alles en weer gepraat word en nog gepraat word.  Nou die ouens wat gesê het vrouens het 20 000 woorde op ‘n dag en mans 2 000, het absoluut geen cooking fokken clue gehad dat sommige van ons spesie, op party dae net instaat is tot 5 woorde nie.  En fokkol tel as 2 woorde op so ‘n dag.  En daarna as ek nog moèt praat, kom fokof (tel as nog 2 woorde).

En nou gaan ek doen wat Toortsie sê in haar blog, positiewe goeters vir myself sê.  Ek gaan begin met: “Ek is ‘n mooi en goeie mens” nee scrap daai.  Ek gaan begin met: “Ek kan minder vloek”.  Môre sal ek prober: “Ek kan minder drink”, maar vannaand gaan ek eers ‘n bietjie uithaak.

Cheers almal en sorry vir die rant, maar dankie dat julle luister.